Tyd vir die grote…

Genoeg langs die kantlyn gesitimage

Terwyl ek nog herstel van son, see en wind aan my vel na ‘n onsuksesvolle hengel poging (om enige moontlike misverstand te voorkom, blameer ek die teleurstelling op die wind en nie op my visvang vermoë nie…), is ek versigtig optimisties oor my tweede poging op “blogging” sukses.

‘n Span wat die laaste paar seisoene lelik verbrand was in die Super Rugby son is ook die span met gemiddeld die meeste sitvlakke-op-stoele. Ter afwagting van die groot vis wat geland gaan word? Of het die geselligheid vóór ‘n wedstryd op die skoolvelde dalk iets met die goeie ondersteuners getalle te doen? Wie weet… Maar met drie agtereenvolgende Currie Beker finale en mondevol vonkelwyn uit die gesogte beker op twee geleenthede kan daar geen twyfel wees dat Kaapse ondersteuners versigtig optimisties is ten spyte van powere vertonings op die internasionale verhoog. Wat Allister Coetzee en sy Stormers moet regkry in 2015 is om sukses op tuisbodem om te skakel na Super Rugby glorie. Want Kapenaars is geduldig maar nie onnosel nie. Hulle weet wanneer kanse verspeel is en die uurglas leeg is… Dis tyd om die grote te land!

So na wie sal daar gekyk word as die plaat warm word? Wie is die speler wat die verskil sal wees tussen sukses en net nóg ‘n “wat as” oomblik?

Met ‘n wedstrydplan wat deur meer veranderinge gegaan het die laaste paar seisoene as ‘n sestien-jarige meisie, is die Stormers lank nie meer die verdediging georiënteerde span waaraan ons gewoond geraak het nie. En alhoewel die “blou muur” van verdediging pluimpies internasionaal gekry het, beteken dit dadels as daar nie self afgerond kan word nie. Super Rugby gaan oor drieë en nie laagvatte nie…

Die Stormers agterlyn is besaai met gifangels wat op enige gegewe tydstip ‘n wedstryd op sy kop kan draai. Juan de Jongh het homself as kaptein bewys en hoe hy nie gekies was vir die Groen-en-Goud op die onlangse uitgaande toer gaan menige verstand te bowe. Daar sal weer van hom verwag word om die spelskepper te wees in ‘n agterlyn wat uit name soos Cheslin Kolbe, Damian de Allende en Kobus van Wyk bestaan. As Fantasy League bestuurder gaan jou grootste kopseer wees wie om nié te kies nie… Die verstandhouding tussen de Jongh en Kolbe is amper telepaties. Vra maar die Blou Bulle in die 2014 Currie Beker op Nuweland. Dis jammer Seabelo Senatla is nie beskikbaar op dié stadium weens Blitzbokke verpligtinge. Die bestendige Griekse god Demetri Catrakilis se dodelike skopvoet sal van kardinale belang wees indien die Stormers wil voortbou op 2014 se sukses.

Maar die agterlyn sal niks beteken indien daar nie vorentoe momentum bewerkstellig word nie (ja ja… Cliché ek weet. Maar dis die waarheid ook…). Hiervoor sal Duane Vermeulen asook Nizaam Carr verantwoordelik wees. Altyd sterk met bal in hand en veral Carr wat die speler op sy skouer gereeld in ‘n gaping stuur met ‘n aangee uit die laagvat – vra maar vir Cobus Reinach… Stormers ondersteuners sal met groot belangstelling toekyk hoe dié twee ysters bestuur word in hierdie Wêreldbeker jaar. Die vroulike rugby kykers sal ook bly wees om Eben Etzebeth op die veld te sien wat meeste van die 2014 seisoen gemis het na ‘n enkelbesering wat hy in 2013 opgedoen het teen Wallis in die Millennium Stadion. Kan iemand nie maar die boere van Europa wys hoe om ‘n ordentlike speelveld te kweek nie…?

Wat ook al 2015 vir die Stormers inhou, een ding is seker: Ondersteuners van die Streeptruie het sukses geproe en dit proe hemels maar los jou dors vir nóg. Ernstige vrae sal volg indien Allister Coetzee se manne weereens nie die pyp kan rook nie. Kapenaars soek daai knewel van ‘n kabeljou…

Vir verdere leestof, kyk gerus hierna http:// http://www.superxv.com/news/super15_rugby_news.asp?id=45157#.VLYu-J9BvqB asook gerugte dat Allister Coetzee die Kaap vir Japan vir verruil http:// http://www.superxv.com/news/super15_rugby_news.asp?id=45152#.VLYvop9BvqA

Groete
J

One thought on “Tyd vir die grote…”

Leave a comment